... en Balfour brand!
 

Johan Eybers
Johannesburg
    

  Druk artikel  
  E-pos storie aan 'n vriend
Click here to find out more!
 
 

 
 

 

Hollywood. Só noem inwoners van die Balfour-township die spoghuis van die burgemeester wat besig is om tussen hul nederige Hop-huise te verrys.

Grootskaalse onrus het Woensdag in Balfour uitgebreek nadat mnr. Lefty Tsotetsi, die burgemeester van die Depaliseng-munisipaliteit, glo ’n versoekskrif van die gemeenskap oor hul griewe en werkskepping geïgnoreer het.

Tsotetsi het glo gesê hy “kan nie liefdesbriefies lees nie”.

Die inwoners het Tsotetsi nou weggejaag, maar sy huis is vir hulle ’n simbool van hul ontevredenheid.

Me. Elizabeth Masishwo, Tsotetsi se buurvrou, is een van die inwoners wat niks meer van politici se beloftes wil weet nie.

“Ek is moeg om verkiesing ná verkiesing vir politici te stem wat net na hul eie belange omsien,” sê die 65-jarige vrou wat saam met haar gestremde dogter, Mavis (35), woon.

Die afgelope 13 jaar al voer Masishwo en haar blinde dogter – soos honderde ander – ’n sukkelbestaan. Sy moet met pensioengeld en ’n staatstoelae van minder as R2 000 per maand aan die lewe probeer bly.

Masishwo voer sedert 2006 ’n stryd met Tsotetsi oor die yslike woning wat hy langs haar huis laat bou – glo op ’n deel van háár grond.

Nog ’n buurman van Tsotetsi, mnr. Xolani Mbusi (23), sê inwoners is bitter omdat die burgemeester in weelde bly terwyl die gemeenskap krepeer.

“Daar is bitter min hoop vir ons jong mense. Daar is nie werk nie. Ek verdien maar gemiddeld R150 per week met klein werkies wat ek hier en daar doen,” sê Mbusi.

Na raming is meer as die helfte van volwassenes werkloos, sê Mbusi.

“Ons is ontevrede omdat werkgeleenthede by die plaaslike myn en kragstasie aan mense gegee word wat elders bly terwyl ons nie ons families kan onderhou nie,” sê Mbusi.

“Die gemeenskap is nou moeg gekla hieroor. Niemand luister nie.”

Swaargewapende veiligheidspersoneellede het Tsotetsi se huis die afgelope week beskerm teen woedende inwoners wat dit wou afbrand.

Sy motor is Woensdag met klippe bestook nadat hy inwoners probeer toespreek het.

Skole was die afgelope week gesluit en die polisie moes nog Vrydag bontstaan om paaie skoon te maak wat met brandende buitebande en klippe versper was.

Ethiopiërs se winkels is ook Maandag en Dinsdag leeggestroop toe die onrus hier begin het.

Mnr. Workneh Tadese, ’n Ethiopiese winkeleienaar wat Woensdag by die Balfour-polisiekantoor geskuil het, sê hy en nog 21 Ethiopiese winkeleienaars het al hul besittings verloor.

“Ons beskou dit as xenofobiese aanvalle, want net winkels wat aan ons en Pakistani’s behoort, is geplunder,” sê hy.

Die polisie het 70 mense in hegtenis geneem. Hulle verskyn môre in die hof op aanklagte van openbare geweld.


 

en Balfour brand!   
http://jv.news24.com/Rapport/Suid-Afrika/0,,752-2460_2542044,00.html